Kort ná die draai van die millennium het ek werk by ’n uitsonderlik moeilike werkgewer gekry.

Geen administratiewe klerk kon dit daar uithou nie. Die een ná die ander het gekom en gegaan. Ons was feitlik maandeliks op soek na ’n nuwe kollega.

Een Saterdagoggend op ’n skoolgeselligheid het ’n vriendin my vertel dat haar suster die vorige week verhuis het. Waar hulle voorheen ’n paar honderd kilometer van mekaar af gebly het, woon sy toe net om die draai.

Omdat my vriendin ’n dierbare mens met ’n sprankelende geaardheid is, het ek my ore gespits toe sy vertel dat haar suster na ’n administratiewe pos op soek is.

Ek het dadelik gebieg dat daar ’n pos beskikbaar is by die firma waar ek werk.

Sy het my eers geskok aangekyk. Toe het sy uitgebars van die lag.

“Karin, jy kan nie daardie pos vir iemand aanbied van wie jy hou nie. Jy moet dit vir iemand aanbied van wie jy nie hou nie.”

Ons het albei gelag.

“Wie sou daardie persoon nogal wees?” het ek hardop gewonder.

As jy vir iemand omgee of waarde aan daardie persoon heg, wil jy nie graag daardie mens in dieselfde moeilike omstandighede as jyself dompel nie. Jy sal hulle graag in beter omstandighede wil sien.

Dit is ongelukkig nie alle mense se redenasie nie.

Mag mense mekaar hoër lig om in beter posisies te wees.

Daardeur gaan ons die wêreld ’n beter plek maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article