Ons het onlangs my man se 60ste verjaardag gevier. Ses dekades.
“Dit voel of ek ’n paar dekades gemis het,” mymer ek hardop.
“Asof daar nog ’n dekade of twee moes wees voordat ons hier uitkom.”
Hy knik ingedagte sy kop.
Ons is so besig om te probeer oorleef dat ons soms nie by leef uitkom nie.
Ons probeer kop bo water hou. Probeer staande bly.
Ons probeer die kinders goed groot kry. Ons skuld afbetaal kry. Kos-op-die-tafel-beroepe kry.
Dit wat breek herstel kry.
Ons probeer goeie menseverhoudinge kweek.
Dit alles neem geweldig baie tyd en energie in beslag.
Wanneer ons hiermee klaar is, dán gaan ons begin leef.
Maar teen die tyd dat ons hiermee klaar is, is ons dalk oud en afgeleef. Dalk baie sieklik. Dalk heeltemal alleen of eensaam.
Iewers moet ons leer om te leef terwyl ons probeer oorleef.
Dit is moeilik.
Hoe meer jy doen, hoe meer word daar verwag dat jy sal doen.
Hoe hoër jou standaard van werk, hoe meer eise word gestel dat jy nog harder sal werk.
Uiteindelik bereik jyself of iemand na aan jou ’n ouderdom wat jou tot stilstand dwing en ’n oomblik oor jou lewe laat nadink.
Ongeag die feit dat baie mense ’n balans probeer handhaaf, slaag baie min hierin.
As jy oor jou lewenspad terugkyk, het jy al geleef?
Of probeer jy nog net oorleef?

