person holding hour glass
Ter illustrasie. Foto: Samer Daboul / pexels.com

Gesels jy met die mense om jou, selfs vreemdelinge wat jou pad kruis of vriende in die buiteland, het die meeste mense dieselfde opmerkings oor hierdie jaar te maak: 2025 is besig om met ‘n geweldige spoed verby te vlieg en het geen tekort aan uitdagings nie. Uitdagings wat hulle in die meeste ander jare nie beleef het nie.

Soos die meeste jare het 2025 met ‘n spoed begin, maar hierdie jaar het nie, soos ander jare, iewers spoed verminder nie.

Lentedag van 1 September is skaars gevier, maar baie mense is tot die siel toe moeg. Die meeste mense wonder hoe hulle nog ‘n derde van die kalenderjaar gaan volhou.

Die uitdagings van hierdie jaar is meer as net finansieel van aard. Fisiek, psigies, geestelik en sosiaal spring uitdagings van alle kante af uit, wat kosbare energie verorber. Net sodra jy een uitdaging om die keel beet het, steek daar onverwags ander hul kop uit.

Die geweldige koue winter wat voorspel was, is reeds iets van die verlede. Verwarmers, wintergeregte en dik komberse is besig om vir die somer plek te maak.

Eersdaags gaan Kersversierings hul verskyning in winkels maak, en teen dan gaan die pas nog vinniger aangedraai word.

Vir matrikulante loop die uurglas van hul skoolloopbaan vinnig leeg.

Daar is nog baie wat in die oorblywende maande vermag moet word. Soveel werk wat in betreklik min tyd suksesvol afgehandel moet word.

Wie weet wat die volgende paar maande vir ons almal inhou?

Skep ‘n oomblik asem en dink aan dinge wat jy reeds gedurende twee derdes van hierdie jaar vermag het. Bemeester het. Oorleef het. Iets uit geleer het.

Sterkte met die laaste derde van die jaar wat oorbly.

Mag dit wat nog gedoen moet word, minder intensief, minder uitdagend en op ‘n stadiger drafstap verrig word.

You need to be Logged In to leave a comment.