Oor ’n rapsie, meer as twee maande, is die jaar 2022 iets van die verlede.

’n Jaar oorlopens toe vol van uitdagings.

’n Jaar gekenmerk deur spreekwoordelike opdraandes waarop min mense voorbereid was.

’n Mens sou graag wou glo dat elke jaar ná 2020 drasties sou verbeter. Skynbaar nie. Mense sukkel nog met hul gesondheid. Besighede stoei nog finansieel.

As jy luister hoe mense na hul komende vakansie of ruskans uitsien, is dit merkbaar dat hulle voel die jaar staan einde se kant toe. Hulle verwys na hierdie jaareinde-wegbreek in terme van die aantal slapies of weke wat oor is. Nie maande nie.

Hulle het nou genoeg gehad.

Emosioneel en fisiek word die meeste mense deur reserwekrag aangedryf.

Waar die middel van die jaar met ’n slakkepas voortgebeur het, het die afgelope paar maande verbyvlieg asof ons teen ’n steil afdraande afhardloop. Ongeag die uitdagende opdraandes waarteen ons uitgebeur het. Geen wonder ons kragte neem af nie.

Sommige beroepe se bedrywighede staan einde se kant toe. Leerlinge begin eersdaags met eksamen en daarvandaan begin die werkladings minder raak. Ander beroepe het nog ’n magdom om weg te werk voordat die middel Desember aanbreek en alles begin stiller raak.

2023 lê op die horison en loer.

Of ons nou gereed is daarvoor of nie, dit maak geen verskil nie.

Ons moet daardeur.

Maar eers moet ons die laaste stukkie van 2022 wegwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.