’n Vriendin het my vir ’n ligte middagete by ’n bekende restaurantgroep genooi.
Ons het mekaar op ’n Saterdagmiddag ontmoet.
Dit was baie besiger as wat ek verwag het en ons het ’n paar minute vir ’n tafel gewag.
Ons het skaars gesit toe ’n kleinding by die tafel langs ons luidkeels ’n verjaardagliedjie toegesing is. Ons het gewag totdat klaar gesing is en begin gesels.
Nie lank daarna nie is nog ’n verjaardagliedjie naby ons gesing.
Weer het ons geduldig gewag voordat ons verder gesels.
Teen ongeveer die negende liedjie het ek kriewelrig begin raak.
Teen hierdie tempo sou ons ligte middagete se kuier tot aandete duur.
“Daar word gesê dat oud-Suid-Afrikaners hierdie gesing so mis dat hulle hier kom eet wanneer hulle kom kuier en net sê hulle verjaar, selfs al verjaar hulle nie,” het ek bo die geraas geskree.
“Ek is seker dit is wat vandag hier aan die gang is.”
Die personeel het reggestaan om nog ’n verjaardagliedjie te sing.
Hierdie keer vir iemand links van ons.
Ek het my kop geskud en in die middel van my sin opgehou.
My vriendin het haar hande heen en weer gewaai en beduie.
“Baie geluk! Baie geluk!” het sy geesdriftig vir die vreemdelinge om ons geskree.
Ek het weer my kop geskud.
“Jy weet wat hulle sê,” het sy geknipoog.
“If you can’t beat them, join them.”

