In die Noord-Kaap gaan slaap ons in die somer en staan in die winter op.
Daar is seker ’n goeie rede waarom die eerste groot kouefront gedurende die middernagtelike ure inbeweeg, maar dit vang gewoonlik die meeste inwoners steeds onkant.
Ja, ons is bewus daarvan dat die seisoen besig is om te draai. Ons gewaar dit in die natuur. Die diere. Die plante. Die insekte. Die son gaan effens vroeër slaap en staan effens later op. Dit is nie asof ons die seisoenverandering heeltemal (kan) ignoreer nie.
Dit sou ons seker in ’n mate beter kon voorberei op die ysige koue wat ons inwag as die eerste kouefronte stelselmatig en in die dag deurbeweeg het.
Maar nee. Nou gaan ons letterlik met ons somergewaad die nag in – net om die volgende oggend ál bibberend na warm klere, dik pantoffels en dikker komberse te soek. Oornag word die somergroen asvaal en dit voel asof die eerste ryp so wyd soos op jou kaal tone geval het. Yswinde begroet ons deur veiligheidsdeure en oop vensters.
Loopneuse stap hand-aan-hand saam met die eerste kouefront wat op sy tone tot op die horison sluip en daarvandaan met mening deur die provinsie beweeg. Ons as woestyndiere kan nie so vinnig afkoel nie. Dit maak ons knieserig.
Hou die dik winterskomberse en pantoffels langs die bed gereed. Want in die Noord-Kaap gaan slaap ons in die somer en staan in die winter op.