Eersdaags is dit “April Fool’s Day”. ’n Paar jaar gelede het ek op 1 April dokumentasie afgebind om in die argiefstoortjie te bêre.
Wanneer ’n mens onder geweldige werksdruk verkeer, raak dinge soms onnodig ingewikkeld.
Sy loer by die argiefstoortjie in.
“Het jy gehoor Februarie gaan nou twee dae bykry?” vra sy. Ek sukkel met die een argiefboks wat nie behoorlik toemaak nie.
“Hulle gaan een dag by Julie en een dag by Augustus wegvat, en vir Februarie gee. Dan is die maande meer eweredig.”
Ek haal die argiefboks se deksel af en probeer vasstel waar die oponthoud is.
“Gaan dit deur die hele wêreld gedoen word?” vra ek terwyl ek die inhoud besigtig.
“Net sekere lande.”
Hier moes ek onraad vermoed het, maar ek het nie. Ek vroetel steeds deur die inhoud.
“Ons stelsels gaan alles opdateer word, die banke en alles.”
Met ’n hoop dokumentasie in my hand kyk ek op. Nou het ek genoeg gehoor.
“Hoe gaan dit werk?” vra ek hewig ontsteld.
“Die stelsels werk nou al nie reg nie, hoe gaan dit werk wanneer hulle hierdie veranderinge gaan aanbring?”
’n Klein glimlaggie pluk aan haar mondhoek.
“Ag nee!” sug ek. “Jy is besig met twak!”
Ek sit die argiefboks op sy plek en stap na my kantoor toe.
“Jammer!” skree sy agter my aan. “Ek het nie gedink dit gaan jou so verskriklik ontstel nie.”




