Iemand vertel my van ‘n onderhoud wat hulle gevoer het waarin die mense baie beïndruk met die gekose kandidaat was: Op die vraag of hy ooit ‘n witleuen vertel, het hy ontkennend geantwoord.
Ek het ‘n oomblik hieroor nagedink.
“As sy vrou ‘n rokkie aantrek en vir hom vra of dit lyk of sy gewig opgetel het, wat sou hy antwoord?” het ek gevra.
Stilte. Die persoon het geglimlag.
“Ek verstaan wat jy sê,” het hy geantwoord.
Ons almal wil graag in ‘n wêreld leef waar daar net reg of verkeerd bestaan. Dit is ongelukkig nie altyd so eenvoudig nie.
Hospitaalpersoneel word gereeld deur baie siek pasiënte gevra of hulle gaan oorleef. In gevalle waar ‘n positiewe antwoord gegee word, oorleef baie pasiënte.
Die teenoorgestelde is ongelukkig waar. Ons brein is ‘n magtige deel van ons liggaam wat nie onderskat moet word nie. Mense wat met sterftebegeleiding of traumaberading te doen het, ondervind dieselfde dilemma.
Daar is nie noodwendig net reg of verkeerd nie. Daar is iewers iets tussenin.
Moet asseblief nie blatant aan die lieg gaan onder die vaandel dat ek dit goedkeur nie. Dit is glad nie wat ek sê nie. Daar is min dinge wat my so ontstel soos mense wat lieg.
Hierdie tussenin is iets anders. Dit is om ‘n wêreld vol skerp kante effens af te stomp. Net in sekere gevalle, nie altyd nie.
Ons is brose wesens, selfs diegene wat nie op die oog af so voorkom nie. Ons almal het af en toe ‘n sagte woord nodig, al is dit nie heeltemal die waarheid nie. Net iets om ons moed te gee om weer die een voet voor die volgende een te sit.
Ja, die waarheid is belangrik. Maar soms is kort-duskant-die-waarheid ook belangrik.



