“Kan ek vir jou ook ’n koppie tee maak?” vra sy terwyl sy kookwater in ’n teekoppie gooi.

“Groot asseblief,” reageer ek.

Sy sit ’n reuse-beker vol tee langs my neer.

“As ek reg onthou, hou jy van ’n groot koppie tee.”

Dit is vreemd hoe basiese eet- en drinkgoed wat deur iemand anders vir jou berei word, gewoonlik lekkerder as jou eie is.

Dit kan ’n koppie tee of ’n geroosterde kaasbroodjie of ’n bietjie pap wees wat iemand jou aanbied – dit smaak dikwels lekkerder as jou eie.

Veral as iemand onthou hoe jy daarvan hou.

Dalk het dit iets te make met die feit dat hulle die tyd afstaan om dit te doen.

Dalk is dit minder ingewikkeld as dit.

Dalk is dit bloot die feit dat jy dit nie self hoef te doen nie.

Hoe meer dinge jy vir ander mense doen, hoe meer waardeer jy die slag wanneer daar iets vir jou gedoen word.

“Laat weet wat jy vir jou verjaardag wil doen, en ons is daar.

“Wat ons eet, is nie belangrik nie, ons wil graag saam met julle kuier,” sê ’n vriendin.

En net daar ontvang ek my verjaardaggeskenk.

Wat is kosbaarder as goeie herinneringe saam met wonderlike vriende?

Ongeag die ingewikkelde samelewing waarin ons leef, het nie alle mense ’n reuse-verwagting van wat gedoen moet word nie.

Soms het ’n mens net iemand nodig wat vra: “Kan ek vir jou ’n koppie tee maak?”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article