“Toe jy hier begin werk het, het ek gedink jy is oulik. Nou hou ek nie eens meer van jou nie.”

Sy woorde het my soos ’n onverwagte vuishou in my maag getref.

Veral omdat die werkgewer teenwoordig was.

’n Oomblik lank het ek na my asem gesnak.

Ek het tevergeefs probeer sluk, met my droë mond.

’n Magdom woorde het deur my kop gemaal.

Daar was ’n hele paar dinge wat ek vir die man wat voor my staan, kon sê. En wou sê.

“Hou vir eers jou lippe op mekaar totdat jy weet wat om te sê,” het ek myself gemaan.

My lippe het op mekaar gebly.

My asemhaling het stelselmatig na normaal teruggekeer.

Die gedagtes het meer georden deur my kop begin maal.

Steeds het ek na die man voor my gestaar. Hy het in spanning op my reaksie gewag.

“Hou jou lippe op mekaar,” het ek myself steeds gemaan.

Skielik het ek iets besef.

Die woorde wat hierdie man so onverwags in my rigting slinger, is eintlik, sonder dat hy dit besef, ’n baie groot kompliment.

“Hoekom sou hierdie woorde my nou eintlik ontstel?” het ek gewonder.

Veronderstel hy sou my vertel dat hy baie van my dink.

Ek sou bekommerd moes wees.

Nie almal moet van ’n mens hou nie. Ons hou immers nie van almal wat ons pad kruis nie.

En soms, net soms, is dit inderdaad ’n verskuilde kompliment.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article