Dit is die eerste keer dat ek sien hoe ’n wyfievink die nessie uitmekaar pluk. Haar liggaamstaal spreek van teleurstelling en woede.
Ek hou die harde werk van die mannetjiesvink die afgelope paar weke deur die kombuisvenster dop wanneer ek ontbyt en aandete voorberei.
Hy werk ywerig van vroegoggend tot laatmiddag.
Soms waai die wind so sterk dat hy sukkel om die grassies gevleg te kry.
Dit is die derde keer dat sy harde werk afgebreek word.
“Kommunikeer die vinkwyfie met die mannetjie oor wat met die nessie verkeerd is?” vra ek my man, wat die kombuis binnestap.
Hy trek sy skouers tot onder sy ore op.
“Ek bedoel – sê sy vir hom die opening front verkeerd of die boumateriaal is nie na haar vereiste nie of die binnekant is te klein? Hoe gaan hy weet wat verkeerd is as sy nie met hom kommunikeer nie? Dit is die soveelste keer dat sy dit afbreek; sy sal moet begin kommunikeer.”
Die volgende oggend vroeg is die mannetjie besig met die raamwerk van ’n vierde poging. Hierdie keer lyk hy baie selfversekerd en vleg baie vinnig.
Ek wonder of dit dieselfde mannetjie is wat al die ander nessies gebou het. Dalk het hy ’n subkontrakteur gekry.
Mag die wyfie hierdie keer tevrede wees.
Sy sal haar verwagtinge moet aanpas, of begin kommunikeer.
Anders gaan daar hierdie somer geen klein vinkies vir haar wees nie.

