colorful pinocchio puppets in turkish window
Ter illustrasie. Foto: İdil Çelikler / pexels.com

As klein dogtertjie, ‘n hele paar dekades gelede, was sy baie erg oor die fiktiewe karakter Pinocchio. In ‘n plaaslike tydskrif was daar ‘n patroon waaruit jy jou eie Pinocchio kon maak. Sy het haar ma omgepraat, en saam het hulle hierdie projek aangepak.

Die ontwerp was oorspronklik, met redelik breiwerk wat daarmee gepaard gegaan het. Die doppie van ‘n leë lipstiffiehouer is met wol oorgetrek en vir sy neus gebruik. Hulle het houthangers middeldeur gesaag en vir sy arms en bene gebruik. Hy het twee reuse-oë gekry, ‘n gebreide lyf en ‘n gebreide punt-hoed. Dit het hulle ‘n paar dae geneem om al die liggaamsdele bymekaar te kry, die breiwerk te doen en dit aanmekaar te werk.

Pinocchio het ‘n klein, wit hempie en ‘n swart broek van materiaal gekry, wat met die naaldwerkmasjien aanmekaargestik is. Volgens die tydskrif het hy ‘n deftige strikdassie om sy nek gehad. Die ma het gewik en weeg.

“Jou pa gaan nie weer in die kerkraad dien nie,” het sy gesê. “Ek gaan sommer sy wit strikdas vir Pinocchio gebruik.”

Skaars ‘n week later is haar pa weer tot die kerkraad verkies. Hy het hardop gewonder waar hy sy wit strikdas gebêre het.

“Ek sou dit beslis nie weggegooi het nie.”

Haar ma het geesdriftig saam met hom begin soek. Sy kaste se rakke en laaie is uitgepak, en teruggepak. Geen wit strikdas nie.

“Ek gaan gou in ons dogter se kamer kyk,” het hy radeloos gesê.

Sy vrou wou nog keer, maar hy het dadelik deur hul dogter se klerekas begin soek. Hy het moedeloos op haar bed gaan sit.

“Ek weet eerlikwaar nie waarheen dit sou verdwyn nie.”

Langs hom op die bedkassie, tussen haar lappop en teddiebeer, het Pinocchio hom met sy lang neus en groen punthoed grootoog aangestaar − met ‘n deftige, spierwit strikdas om sy nek.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.