Soms het ’n mens jou eie ore nodig om te hoor wat jou eie mond sê.
Ons gesels baie, wetend of onwetend, met onsself.
Veral wanneer ons ’n probleem probeer oplos.
Om net met jouself ’n gesprek te voer en ’n oplossing te probeer kry, veroorsaak soms dat jy in ’n kringloop vasgevang word. Sodra jy dink jy het die oplossing, begin jy weer van voor af redeneer.
Iemand wat as ’n klankbord optree, is kosbaar. Hierdie persoon hoef nie noodwendig insig in jou probleem te toon of agtergrondkennis te hê nie.
Hy of sy moet net aandagtig luister. As hulle ’n stuiwer in die armbeurs kan gooi, soveel beter.
’n Vreemde ding gebeur wanneer jy iemand as ’n klankbord gebruik: Jou eie ore hoor wat jou eie mond sê.
Juis hierin lê baie keer die oplossing.
Wanneer jy jou probleem stelselmatig hardop met iemand deurklank, hoor jy wat die werklike probleem is en jou brein registreer wat die moontlike oplossings daarvoor is.
Dit is in so ’n geval dat ’n mens jouself halfpad in die rede val: “Noudat ek hoor wat ek sê, weet ek wat die moontlike oplossing is.”
Van tyd tot tyd voel ’n mens oorweldig. Asof die wêreld so swaar op jou skouers druk dat jy geen oplossing vir jou uitdagings het nie.
Dan moet jy dalk iewers ’n klankbord nader trek, want soms het ’n mens se eie ore nodig om te hoor wat jou eie mond sê.

