Die meeste mense wat troeteldiere besit, is baie erg oor hul dierekinders.

Daar is mense wat hul troeteldiere verwaarloos, maar oor die algemeen vertrou ek dat die meeste mense na hul diere omsien.

Ná ’n afspraak weens ons hond wat seergekry het, stap ek moedeloos by die veearts se spreekkamer uit.

“Ek is so moeg vir veeartse wat ’n mens hondsleg oor ’n mens se hond laat voel,” kla ek hardop.

“Skryf oor katterige veeartse,” knipoog iemand.

Ten spyte van die feit dat ’n mens werklik na jou diere omsien, gebeur dit dat hulle siek word of seerkry.

Dieselfde met jou kinders.

Dit is selde dat die siekte of besering aan nalatigheid toegeskryf kan word.

Dit is dus met ’n baie swaar hart dat ’n mens ’n veearts met jou siek of beseerde dier besoek as jy weet jy gaan baie kort-af behandel word.

Amper asof jy jou dier doelbewus voor die voertuig ingeslinger het of ’n kiem beveel het om jou dier aan te val.

As ons as diereliefhebbers klaar so sleg voel wanneer iets met ons diere gebeur, is dit werklik nodig om so ongeskik te wees?

Ek verwag geensins dat die veeartse ’n koppie tee saam met ons drink en sneesdoekies moet aangee nie. Daar hoef nie eens ’n laaigraaf vol simpatie aan ons verskaf te word nie.

Wees asseblief bedag op die feit dat ons reeds hondsleg voel.

Hou op om katterig te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article