Ons doopname is (gewoonlik) iets wat ons nie vir onsself kies nie. Ons ouers of ander mense besluit gewoonlik wat ons doopname is en hoe dit gespel word.
Daarmee saam kry ons gewoonlik ‘n van of familienaam. Daaroor het ons ook nie self ‘n keuse nie.
In sekere gevalle is name samevoegings van verskeie ander name. Dele van die ouers se name is ‘n goeie voorbeeld.
In ander gevalle word mense na iemand anders vernoem. Soms ‘n familienaam. Soms iemand bekend. Soms is dit net ‘n naam waarvan die ouers hou.
Ek is bewus van vier verskillende maniere om my naam te spel. Wanneer mense vir my vra hoe om my naam te spel, antwoord ek gewoonlik dat dit nie saak maak nie. Want – voel dit vir my – dit maak nie altyd saak nie.
Nadat ek op die lys van oorledenes op die stemlokaal se inligting geland het en gesukkel het om my eksamenuitslae te kry, skryf ek ons van sonder die deelteken. Die deelteken het net Babel se verwarring veroorsaak.
In hierdie geval maak dit nie werklik saak nie, maar daar is heelwat vanne wat nie goedsmoeds sonder die deelteken geskryf kan word nie. Dit gaan waarskynlik verwarring van ‘n ander aard veroorsaak.
Soms, om verskillende redes, verander mense hul name of voeg nog ‘n naam by.
Ek gesels onlangs met iemand wat my vertel het dat sy ma baie graag ‘n dogter wou hê. Omdat hy die vierde en laaste seun was, is een van sy doopname Petro. Hy vertel dat hy gewoonlik nie Petro uitskryf nie.
“As iemand my vra waarvoor die P in my voorletters staan, sê ek dit staan vir Pedro,” het hy gesê.
Ons het saam geskater van die lag.
Is jy tevrede met die name wat jy gekry het? Indien nie, watter name sou jy vir jouself kies?


