Nog ’n jaar is op sy rug. Byna 12 maande is verby.
Die 12 maande word gekenmerk deur teleurstellings, wanhoop en verkeerde besluite.
Dit word ook deur liefde, vrede en vriendskap gekenmerk.
Die mens is ’n ingewikkelde wese. En so ingewikkeld soos ons is, so ingewikkeld is ons emosies en besluitneming. Dan raak alles om ons ingewikkeld.
Of dit ’n goeie, gemiddelde of slegte jaar was, dit is iets van die verlede.
Diegene met ’n goeie jaar agter die blad het reeds hoop dat volgende jaar weer goed sal verloop.
Diegene met ’n slegte jaar agter die blad hoop dat die wiel draai en volgende jaar beter sal verloop.
Soms het ’n mens net een verskriklike slegte herinnering nodig om sommer die hele jaar as ’n slegte jaar te bestempel.
Die teenoorgestelde is gelukkig ook waar.
Vir die vakansiegangers lê ’n tyd van asemskep voor. Dit is gewoonlik eers wanneer ’n mens van verlof af terugkeer dat ’n mens besef dat jy wel gerus het.
Dit is ook gewoonlik waar ’n mens beter perspektief bekom – wanneer ’n mens vir ’n oomblik kan terugtree en asem skep.
Mag die einde van die jaar gevul wees met goeie herinneringe en mag ons die nuwe jaar met gesonde perspektief binnegaan.
Aan diegene wat met verlof gaan, wees veilig op die paaie en kom veilig terug.
Of jy tuis gaan bly en of jy weggaan – geniet die laaste stukkie van 2022.

