Liewe leser, ek sit hierdie rubriek op die voorstoep van die Montagu-hotel en skryf. Die geboue rondom my dateer uit 1892. Regs van my is asemrowende berge en rustige natuurskoon.
Iemand wat ook gereeld skryf, het eendag gesê dat sy vanaf die Laeveld see toe verhuis het omdat sy groter inspirasie by die see as in die Laeveld kry.
Dit klink baie idillies, maar ek stem nie heeltemal met haar saam nie.
Inspirasie om iets te skep kom nou wel vanuit mooi omgewings en asemrowende natuurskoon, maar dit kan ook vanuit jou direkte omgewing en die mense rondom jou kom.
In ons reis deur van die mooiste gedeeltes in ons land het ons baie vreemdelinge raakgeloop.
Ek sien iemand slegs vir die eerste vyf minute as ’n vreemdeling. Daarna weet jy dalk wat hul naam is, waarvandaan hul kom en watter soort beroep hy of sy beoefen.
Afhangende van die paaie wat jy met hierdie vyf-minute-vreemdeling kruis, kan dit dalk al inligting wees wat nodig is om uitgeruil te word.
Soms word hierdie vyf-minute-vreemdeling ’n kennis. Soms selfs ’n vriend of vriendin.
Die mense in die Noord-Kaap verleen ’n unieke soort inspirasie. Die meeste van hulle is gasvry en vriendelik. Met baie interessante staaltjies.
Ek skryf dalk nie gereeld met ’n uitsig oor asemrowende berge of die magtige oseaan nie, maar die inspirasie wat ek by die mense om my kry, is van onskatbare waarde.
Dankie vir inspirasie.

