Haar maag het onverwags ontsteld geraak. Omdat sy gemeen het dit is net haar maag en dit sal met oor-die-toonbank-medisyne genees, het sy nie dokter toe gegaan nie.

Ná ’n paar dae was sy afgemat en steeds siek. Sy het ’n afspraak by haar dokter gemaak. Hy het haar dadelik in die hospitaal laat opneem.

Haar kaliumvlakke was baie laag, maar binne-aarse voeding sou dit vinnig opklaar.

Kort nadat sy opgeneem is en met die binne-aarse voeding begin het, het een van hul predikante langs haar bed gestaan. Hy was bekommerd en het na haar welstand uitgevra.

Sy het verduidelik dat daar niks ernstigs fout was nie en dat sy binnekort ontslaan sou word.

Sy het skaars haar oë toegemaak toe hul tweede predikant langs haar bed staan. Hy was ook bekommerd en het ook na haar welstand uitgevra. Sy het haar weergawe van die situasie herhaal.

Toe haar gunsteling-kollega ’n paar uur later kom besoek aflê, was sy in trane: “An’tjie, my dokter het gesê dis net my kaliumvlakke wat laag is, maar albei ons predikante het my binne ’n halfuur besoek. Daar is iets ernstigs fout.”

Haar kollega het belowe om ondersoek in te stel. Die volgende dag het sy weer ingeloer.

“Jy het niks om oor bekommerd te wees nie,” het sy gesê en geskater.

“Die twee predikante het by ander lidmate besoek afgelê en in die verbygaan op jou lêer gesien dat jy in hul gemeente is – en na jou welstand uitgevra.”

You need to be Logged In to leave a comment.