“Jy lyk moeg,” merk hy op toe hy my in die winkelsentrum raakloop. “Is dit die Rottweiler wat jou onderkry?”
Ek glimlag.
“Rottweiler?”
“Jy weet. Jou baas. Ek hoor hy is ’n moeilike mens.”
Ek glimlag weer en skud my kop. Dit is die spreekwoordelike groot honde waarmee ek goed oor die weg kom. By die groot honde kan ’n mens baie leer.
’n Groot hond storm wanneer hy kwaad is. Lê tevrede eenkant wanneer hy rustig is. Met ’n groot hond weet jy waar jy staan.
Sy ja is ja. Sy nee is nee. Hy dompel nie iets in suikerstroop om die smaak te probeer verbloem nie.
“Nee,” begin ek verduidelik.
“Ek is baie erg oor die Rottweiler. Dit is die kefferbrakkies wat my onderkry. Die hakskeenbytertjies.”
Dis die spreekwoordelike klein brakkie wat sy stempel op die verkeerde manier probeer afdruk. Die keffertjie wat jou aan die broekspyp beetkry en nie wil los nie.
Hulle rig nie skade aan of byt jou dat die bloed loop nie, maar is ’n geweldige irritasie. Frustrasie. Spoedbrekers. Kwaadstokers.
Hulle wou graag groot honde wees, maar is nie. Daarom knou hulle af. Maak hulle lawaai. Blaf hulle onophoudelik. In hul kop is hulle beter as groot honde.
Maar draai jy die dag om en skop hulle in die wind, is jy die onregverdige een.
“Dit is nie die groot honde in die lewe wat my moeg maak nie,” sê ek.
“Dit is die hakskeenbytertjies wat my moed breek.”

