Iemand gesels onlangs met my oor ’n droom wat hy ná 40 jaar kon bewaarheid.

Dit is iets wat hy in sy dertigerjare besluit het om met sy hande te maak, maar dit het nooit ’n werklikheid geword nie.

“As ek dit nie nou doen nie, gaan dit een van daardie dinge wees waaroor ek spyt is,” het hy geskerts.

Uiteindelik het almal van ons ’n beperkte lewe.

Selfs al word jy verskriklik oud, gaan daar nog steeds ’n vervaldatum opduik waarby jy nie verby kan kom nie.

En almal van ons gaan teen ons vervaldatum oor iets spyt wees.

Ná daardie gesprek het ek gewonder of ’n mens nie van die eindpunt af terug kan werk nie.

Gestel ons sou ’n lysie maak van dinge waaroor ons spyt gaan wees wanneer die einde nader kom: Menseverhoudings wat ons moes herstel. Dinge wat ons wou doen. Plekke wat ons wou besoek.

Dalk sou ons meer gereeld saam met vriende wou kuier, of meer balans in ons lewe wou handhaaf.

Ek het gaan sit en dink oor hoe my lysie sou lyk.

Om dit te oorweeg is ’n ontstellende gedagte.

Die positiewe daaragter is dat ’n mens waarskynlik daaraan aandag kan gee voordat dit te laat is.

Sommige dinge op die lysie behoort dalk tot die verlede; is die spreekwoordelike “water under the bridge”.

Ek is seker daarvan daar gaan dinge op die lysie wees wat jy wel iets aan kan doen.

Waaroor gaan jy spyt wees?

You need to be Logged In to leave a comment.