Sy was vyf jaar oud toe haar ouers by ’n strandhuis teen die Natalse kus tuisgegaan het.

Die groter-as-normaal vensters wat oor die see uitgekyk het, het haar gefassineer.

Dit was aangeslaan van seesout, en ’n mens se uitsig was nie so goed soos wat sy gevoel het dit behoort te wees nie.

Die volgende dag het sy besluit om te help. Inisiatief is blykbaar altyd ’n goeie ding. Sy het ’n lap en ’n emmer water gaan haal en self die groot vensters begin was. Waar sy nie kon bykom nie, het sy die bed of tafel as hulpmiddel nader geskuif.

Teen laatoggend was sy klaar.

Sy het haar ma gaan haal en baie trots haar handewerk gewys.

Die ma het na die vensters gestaar.

Waar die uitsig die vorige dag effens wasig was, kon ’n mens nou glad nie deur die vensters sien nie.

Sy het geweet die dogtertjie het dit goed bedoel.

Sy het haar vir haar handewerk bedank, maar so diplomaties moontlik vir haar probeer verduidelik dat “doen” en “help” nie altyd dieselfde ding is nie.

Eers nadat die ma die res van die dag deurgebring het om die vensters te was het die dogtertjie besef wat haar ma bedoel.

Daar is mense wat graag wil help. Voel hulle moet help. Om watter rede ook al.

Ongelukkig is dit in baie gevalle nie altyd hulp nie.

Doen jy iets vir iemand anders?

Of help jy hulle regtig?

You need to be Logged In to leave a comment.