“Dit is asof mense op diegene wat met hul hande werk, neersien,” sê sy en staar na niks in die besonder.

Ek dink ’n oomblik hieroor na. Daar steek ongelukkig ’n mindere of meerdere mate van waarheid hierin.

As die gemiddelde mens moet kies om óf met iemand in ’n duur snyerspak óf met iemand in ’n oliebesmeerde oorpak vereenselwig te word, kies die meeste eersgenoemde.

’n Mens wonder waar die wêreld sou wees sonder mense wat handearbeid verrig.

Dit sou heerlik wees as almal se naam Henry was en bekend kon staan vir die baanbreker Ford, maar waar sou voertuie wees as daar niemand was wat hulle in stand hou en herstel nie?

Die tyd waarin ons in ons besondere land leef is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Daar is min stelsels wat nog reg werk. Die oorsaak van elektrisiteit- en waterprobleme kom gewoonlik op een ding neer: ’n tekort aan instandhouding.

Dit maak nie saak hoe groot of klein of watter soort toerusting bestaan nie, dit het een ding in gemeen: Dit moet versien word. Om hierdie werk met mensehande te verrig, is kennis en ondervinding nodig.

Mense skuif maklik oliebesmeerde-oorpak-mense eenkant toe, asof minder belangrik. Dit kan nie verder van die waarheid af wees nie.

Dit is juis waarom dinge rondom ons lyk soos dit lyk: omdat onderhoud en instandhouding as onbelangrik beskou word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article