Kort nadat hulle na ’n ander provinsie verhuis het, het ’n gemeenskaplike kennis hulle aan iemand gaan voorstel.

Die uitbreiding waarheen hulle geneem is, het van ’n oorvloed rykdom getuig. Toe hulle op die sitkamerbank plaasneem, het die ma baie onrustig vir hul twee kleuters beduie dat hulle eerder moet staan en glad nie sit nie.

Die kleurskema van die sitkamer was wit. Spierwit. Die leerbanke en kussings was wit. Die mat. Die staanlamp. Die lappies op die wit koffietafels.

In haar verbeelding kon sy sien hoe dit vol kolle agtergelaat word. Natuurlik, glad nie doelbewus nie.

“Kan hulle dalk buite speel?” het sy ’n plan probeer maak.

Die woonhuis het ’n paar verdiepings beslaan, en die ruim vertrekke het van professionele ontwerp en binnehuisversiering gespreek. Die reuse-grasdak het dit met dramatiese punte gekomplementeer en afgerond.

Die teestel waaruit hulle gedrink het, het waarskynlik meer gekos as hul maandelikse salaris. Wat as hulle per ongeluk iets breek voordat hulle vertrek? Uiteindelik is hulle daar weg sonder dat ooglopende skade aangerig is.

’n Paar maande later het die ma hul oudste kleuter by die skool gaan haal. Uit die teenoorgestelde rigting het ’n pa met sy kleuter aangestap gekom.

Die ma het vriendelik geknik en verbygestap. Skielik het sy besef dat die man bekend lyk.

“Ken ons hierdie oom?” het sy hul kleuter saggies gevra.

“Ja,” het hy hardop binne hoorafstand geantwoord.

“Dis die oom met die gras op die dak.”

You need to be Logged In to leave a comment.