“Moenie slaap nie, kyk! Agter die gordyne begin die dag dans met ’n pouveer in sy hoed.”
Só lui een van Ingrid Jonker se gedigte.
Ons kan dit nie net aan die begin van ’n nuwe dag sê nie, maar ook aan die begin van hierdie nuwe jaar.
Vader Tyd wag vir niemand nie.
Die sekondewysers tik ongesiens en wanneer ons weer sien, is dit nie dae en weke nie, maar maande en jare wat verbygetik het.
Ons wil nog soveel doen. Ons móét nog soveel doen.
’n Jaar vol onsekerhede lê voor ons uitgestrek.
Leerlinge is reeds terug op die skoolbanke en eersdaags is studente terug by die onderskeie universiteite.
Foto’s op die sosiale media en oorblyfsels van korreltjies seesand in voertuie vertel dat die roetine onlangs verbreek is deur weg te breek.
Vir die meeste mense is dit ongelukkig iets van die verlede. Die meeste is terug in die tuig.
Daar word, traag of fluks, skouer aan die wiel gesit. Vorentoe gebeur. Dag ná dag gewoeker en gewerskaf.
Binnekort gaan die seisoen begin draai. Om net wéér daarna te begin draai.
Geniet die goeie tye wat die komende jaar inhou.
Byt vas gedurende die uitdagende tye wat die komende jaar ook gaan inhou.
Mag die uitdagings van die afgelope paar jaar ooglopend verminder, en mag die skaal in die komende jaar na die positiewe kant toe kantel.

