Potpourri: Foute hier gou vergewe

Dit was onlangs die einde van nog ’n finansiële jaar.


Dit was onlangs die einde van nog ’n finansiële jaar.

Met die oog op hierdie jaareinde was baie mense besig om syfers bymekaar te maak. Voorraadopnames is gemaak. Syfers is gekontroleer en weer gekontroleer. Daar is gespook om die sperdatums van die Suid-Afrikaans Inkomstediens te haal.

Die meeste syferberoepe is ’n groot uitdaging. Ongenaakbaar. Klinies. Onpersoonlik.

In syferberoepe word foute en verskille moeilik vergewe. Syfers is nie so plooibaar en voorspelbaar soos mense graag wil glo nie.

Met die huidige ekonomiese klimaat raak die syferberoep in sekere opsigte selfs ’n groter uitdaging.

Ek reken sekere beroepe is meer vergewens­gesind as syferberoepe. ’n Weervoorspeller, byvoorbeeld, is een van daardie word-makliker-vergewe-beroepe.

Waarskynlik omdat nuwe voorspellings daagliks gemaak kan word. Gister se voorspelling is ou nuus. Nie meer van toepassing nie. Daar word op vandag en die daaropvolgende dae se voorspellings konsentreer.

Almal verstaan dat die natuur onvoorspelbaar is. Hulle verstaan nie noodwendig hoe die hoogdrukstelsel wat vinniger as verwag inbeweeg die weerpatroon beïnvloed nie, maar hulle verstaan dat die weervoorspeller nie eiehandig die hoogdrukstelsel kon manipuleer nie.

Sekere beroepe se foute en verskille word maklik vergewe.

Wie weet, as ek weer ’n beroep kon kies, is ’n weervoorspeller dalk nie so ’n slegte idee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.