“Ons moet meer sulke forums hou, dan sal ons leer dat ons almal min of meer dieselfde dinge ervaar,” sê sy laggend.
Kort voor dit het die gesprek begin toe ek hardop wonder of dit net ons is wat padkos heen en weer ry.
Gestel ons gaan met vakansie.
Ek maak ’n lysie van watter padkos ons gaan saamneem en gaan winkel toe om dit aan te koop. Dit bestaan gewoonlik uit ’n verskeidenheid van eet- en drinkgoed.
Nie te veel nie, maar ook nie te min nie.
By ons bestemming aangekom, is daar gewoonlik nog van die padkos oor en ons peusel daaraan in die tyd van ons wegbreek.
Omdat ons selde lank weggaan, is daar gewoonlik van die padkos wat op die terugreis genuttig word.
Dit is aan die orde van die dag dat daar iewers ’n pakkie lekkers of koekies onoopgemaak terugkom.
Peinsend met die pakkie in my hand wonder ek herhaaldelike kere hoe dit gebeur het dat hierdie spesifieke pakkie nooit oopgemaak is nie.
Al die pad soontoe. Al die pad terug. Steeds onoopgemaak.
Ek sou leer dat daar heelwat ander mense is wat dieselfde ervaar en oor dieselfde ding wonder – of hulle die enigste een is by wie een pakkie padkos onoopgemaak terugkom.
Jy is heeltemal reg: Ons moet meer sulke informele forums hou.
Dan kan ons ons ervarings deel met die wete dat baie mense dieselfde dinge ervaar.

