a woman in yellow zip up jacket wearing eyeglasses
Ter illustrasie FOTO: Mart Production / pexels.com

Daar is min dinge so frustrerend soos om twee van dieselfde kledingstukke by dieselfde winkel te koop en een pas en die ander een pas nie.

Koop jy twee van dieselfde T-hemde by dieselfde winkel, in dieselfde grootte met dieselfde ontwerp en dieselfde snit, net verskillende kleure, is dit nie te sê albei gaan ewe goed pas nie.

As ‘n mens die moeite doen om een aan te pas, is dit werklik nodig om die tweede een, in dieselfde grootte, ook aan te pas?

Soms pas ‘n mens iets aan, selfs al vermoed jy dit gaan nie pas nie − in die hoop dat jy iewers ‘n paar gram verloor het en dat die kledingstuk beter as die vorige keer gaan pas.

Nie net word jy verkeerd bewys nie, maar die teenoorgestelde word gewoonlik bevestig.

Wanneer ‘n mens ‘n kledingstuk as deel van ‘n groep koop, is die druk gewoonlik groter, sou jy nie die grootte openbaar wou maak nie.

Dit voel vir jou of almal die klein grootte kies, terwyl jy die enigste een is wat ekstra-ekstra-groot kies.

‘n Maatskappy het onlangs hul werknemers almal gholfhemde belowe.

Groot opgewondenheid het onder die personeel geheers.

Die kleur was min of meer wat almal gepas het en die ontwerp was professioneel.

Die enigste bydrae wat die personeel moes gee, was hul onderskeie groottes.

Die reuse-bestelling is geplaas en die hemde is na die onderskeie takke vervoer.

By hierdie betrokke tak het die meeste van die werknemers dadelik hul gholfhemde aangepas.

Dit het baie knap gesit.

Daar was slegs twee werknemers vir wie die gholfhemde gemaklik gepas het.

“Hoe is dit dan dat ons twee se gholfhemde pas en die ander s’n nie?” het die een die ander gevra.

“Want ons is nie size deniers nie, meneer,” het sy geantwoord.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.