Ek het onlangs ‘n besigheids-ekspo bygewoon waar ‘n spreker oor probleme in die werkplek gesels het.
“Elke jaar het sy eie probleme,” het hy gesê. “Wanneer jy elke jaar met dieselfde soort probleme sit, moet jy daaraan dink om ondersoek in te stel.”
Soms leer ons onwetend iets − totdat die probleem homself herhaal. In sekere gevalle kan ons selfs die probleem in die bek ruk voordat dit handuit ruk.
Hoewel nog ‘n paar maande van hierdie jaar oor is, is daar al mense wat vertel van lesse wat hulle uit die jaar geleer het.
Iemand vertel my hoe dankbaar hy is dat sy dogter van ‘n geweldige uitdagende siekbed herstel het en hoe hy weer geleer het hoe belangrik ‘n mens se gesondheid is.
Iemand anders vertel dat sy iets van menseverhoudinge geleer het – hoe jy op sekere mense kan staatmaak en op ander nie.
‘n Trotse ouma getuig dat sy van voor af respek vir ouerskap gekry het nadat sy hul kleinkind opgepas het.
‘n Vriendin vat haar weergawe van die jaar se leerskool in ‘n neutedop saam: “Die mens wik, maar God beskik.”
‘n Ander vriendin sluit daarby aan deur te sê dat hierdie geweldige traumatiese jaar haar geleer het dat, hoewel ons planne nie uitwerk nie, ons aan hoop moet vashou. Sy het ook besef dat haar probleme klein is in vergelyking met ander mense s’n.
“Hierdie jaar het my geleer om sterker te wees,” sê iemand. “Dit het my ook geleer watter mense werklik daar is vir my en nie net vir hul eie ego’s nie.”
Ek het geleer dat mense in jou kan bly glo, ongeag soveel tekortkominge. Dan is daar mense wat jou bly veroordeel, ongeag soveel goeie dinge.
Wat het hierdie jaar jou geleer?



