Op Dinsdag 26 Augustus word internasionale hondedag gevier. Elke hond kry toe inderdaad sy dag.
Daar is hondemense en katmense en dieremense. Dan is daar mense wat glad nie van diere hou nie. Besef hulle wat hulle misloop?
Mense word om verskeie redes aangeraai om honde aan te hou. Navorsing toon dat ‘n mens se bloeddruk daal wanneer jy ‘n hond vryf. Dit is een van die uitdagings waarmee senior burgers worstel wanneer hulle in ‘n meenthuiskompleks of aftree-oord woon waar geen diere toegelaat word nie.
Die aantal Afrikaanse uitdrukkings wat met honde verband hou, gee ‘n goeie aanduiding hoe kosbaar honde is.
As ‘n mens ‘n hond wil slaan, kry jy maklik ‘n stok.
Blaffende honde byt nie. ‘n Hond se gedagtes kry.
Haastige hond verbrand sy mond. Dit gaan nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie. So siek soos ‘n hond wees.
Moenie slapende honde wakker maak nie. Dit lyk asof die honde sy kos afgeneem het. Hy praat ‘n hond uit ‘n bos uit. Soos kat en hond lewe.
Twee honde veg om ‘n been, die derde loop daarmee heen. Vir die kat kwaad wees en die hond skop.
By honde kan ons leer hoe om te vergewe. Byna onmiddellik – asof dit nooit gebeur het nie.
Honde, soos ander troeteldiere, benodig meer as kos en water en slaapplek. Hulle het liefde nodig. Aandag. Tyd. Om van hul eienaars af weg te wees is traumaties.
Daar word na ‘n hond as ‘n mens se beste vriend verwys. Dalk moet ons ‘n oomblik tot stilstand kom en iets spesiaals vir hierdie beste vriende van ons op 26 Augustus doen.
Koop ‘n nuwe halsbandjie. Was hul speelgoed en beddegoed. Gaan stap saam om die blok.
Gee jou hond ‘n ekstra stywe drukkie op hierdie spesiale dag.
Lees nog rubrieke hier.


