Eksamentyd is besig om ten einde te spoed. Op alle vlakke. In alle rigtings. By alle opleidingsinstansies.

In die Noord-Kaap is die vereenselwiging nie so bekend nie, maar as jy in Gauteng op skool en/of universiteit was, is Jakarandatyd eksamentyd. Hierdie pragtige pers blommetjies het ’n wrang smaak in jou mond gelaat. ’n Reputasie wat die boom glad nie verdien het nie.

Die meeste leerlinge en studente het ’n wrewel in eksamentyd. Soms word daar geweldig baie ure in die voorbereiding ingesit, maar die uitslae wys dit nie altyd nie.

Ander bestee baie min tyd voor die boeke, en dan is die uitslae baie goed. Uiteindelik bly die lewe maar onregverdig.

Om ’n sekere standaard in die lewe te kan handhaaf moet jy ten minste ’n matrieksertifikaat besit. Afhangend van watter beroep jy kan of wil volg, moet jy waarskynlik nog ’n graadsertifikaat of twee of drie verwerf.

Ongelukkig beteken die feit dat iemand die teorie onder die knie het nie noodwendig dat die persoon dit in die praktyk kan toepas nie.

Maar die graadsertifikaat is nodig om tot ’n sekere beroepsegment toegelaat te word.

Jy werk jouself katswink vir een papier. ’n Bladsy wat spreek van deursettingsvermoë, toewyding, hope tyd en energie wat hier ingestort is.

Byt vas. Druk deur. Uiteindelik gaan jy hierdie bladsy in jou hand hê en daar gaan diegene wees wat verstaan wat dit verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.