“Bid en beweeg,” het die man gesê.
Sy verduideliking van hierdie stelling het vir my sin gemaak.
Mense wil graag in ’n beter situasie wees, maar wil nie altyd ’n poging aanwend om ’n beter situasie te bewerkstellig nie.
Baie mense wil graag gewig verloor, maar doen geen fisieke aktiwiteite nie en eet ongesond. Hulle bid dat hulle gewig sal verloor, maar probeer nie beter leef nie.
Baie mense wil graag werk, maar wend nie ’n poging aan om hul akademiese kwalifikasie te verbeter of ondervinding op te doen nie. Hulle bid vir werk, maar soek nie werk nie.
Baie mense bid dat hulle ’n vraestel sal deurkom, terwyl hulle nie genoeg voorbereiding daarvoor gedoen het nie.
Jy moet bid. Jy moet ook beweeg. Deel van die verantwoordelikheid berus by jou.
Jy kan nie heen-en-weer oor ’n besige snelweg stap en bid dat jy nie iets oorkom nie. Jy moet iewers verantwoordelikheid neem.
Om te bid is die maklike deel. Om te beweeg is die moeiliker deel.
Nie noodwendig moeilik of onmoontlik nie. Net moeiliker as om te bid.
Dit verg inspanning. Die meeste mense hou nie van inspanning nie. Hulle verwag dat dinge vir hulle op ’n skinkbord aangebied word of in hul skoot val. Sonder enige inspanning van hul kant af.
Dat jy bid en beweeg, is nie ’n gegewe dat jy iets sal ontvang of daarin sukses sal behaal nie; maar dit is beslis ’n goeie begin.
Bid en beweeg.

