Daar is dinge in die lewe wat ’n mens nie mag sê nie.
’n Paar dekades gelede was daar meer dinge wat ’n mens nie mag gesê het nie. Om te praat oor dinge soos egskeiding, verkragting of dwelms was taboe.
Vandag is daar min dinge waaroor nie gepraat mag word nie, maar daar is tog dinge wat nie gesê mag word nie.
Jy kan nie hardop sê wat jy van enkele mense dink of hoe jy oor sekere onderwerpe in die lewe voel nie.
Jy mag. Maar jy moet bereid wees om die gevolge hiervan self te dra.
Dan is daar dinge wat jy mag sê, maar wat nie nodig is om gesê te word nie.
Totdat die alternatief bewys word, hoef ’n mens nie hardop te sê dat jy vir jou kinders lief is nie. Dit is min of meer vanselfsprekend.
Jy hoef nie te sê aan watter godsdiens jy behoort of hoeveel geld of grade jy het nie.
Al hierdie dinge word uit jou optrede afgelei, nie uit wat jy sê nie.
Om voor die hand liggende dinge te sê is onnodig en oorbodig. Persoonlik raak ek effens kriewelrig as mense voor die hand liggende dinge sê.
Ek wonder gewoonlik of hulle eerder hulleself as vir my wil oortuig met wat hulle besig is om kwyt te raak.
Daar is dinge in die lewe wat verkieslik nie gesê mag word nie.
Dan is daar dinge wat nie hoef gesê te word nie.