breakfast on camping
Ter illustrasie. Foto: esrannuur / pexels.com

Sy herken hom dadelik toe hy by die deur van die koffiewinkel instap. Nadat hy sy koffie bestel het, stap hy na haar toe. Hy twyfel of dit een van sy hoërskoolonderwyseresse is en vra haar daaroor uit. Sy bevestig sy vermoede.

Sy vra hom uit oor sy werk en hoe die afgelope paar dekades in sy lewe verloop het.

“Hoe is dit dat jy nog nie uit die Noord-Kaap weggetrek het nie?” vra sy.

“Dit voel of al die jongmense ons provinsie verlaat.”

Hy vertel haar dat hy onlangs eerste op ‘n ongelukstoneel afgekom het. Uit die aard van sy beroep het hy dadelik noodhulp op die bestuurder van die voertuig toegepas.

Die man was baie ernstig beseer en hy het die noodhelikopter ontbied.

Kort nadat hy met die noodhulp begin het, het ‘n ouer dame langs hom kom stilhou.

“Wil jy nie varsgemaakte toebroodjies hê nie?” het sy deur die oop motorvenster geroep.

Hy het sy kop geskud en so hoflik moontlik beduie dat hy besig is om ‘n man se lewe te probeer red. Daar is nie nou tyd vir toebroodjies nie.

Hy het met die noodhulp voortgegaan.

Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het die noodhelikopter geland, en hy het gehelp om die bestuurder van die voertuig in te laai.

Met die opstyg van die helikopter het ‘n moegheid hom oorval.

Hy het baie stadig na sy voertuig toe gestap, ‘n paar lappe en ‘n waterbottel uit die bagasieruim gehaal en sy hande begin skoonmaak.

Nadat hy die lappe en water gebêre het, het hy besluit om weer in die pad te val.

Op die enjinkap van sy voertuig het ‘n fles koffie en varsgemaakte toebroodjies vir hom gewag.

“En dit is juis hierdie soort optredes wat my hier in die Noord-Kaap hou,” het die jongman sy vertelling afgesluit.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.