Die feit dat haar nooiensvan Brits was, het niks te doen gehad met die feit dat hulle in Brits gebly het nie. Om die waarheid te sê was hulle so lank getroud en baie jare al inwoners dat die meeste mense vergeet het wat haar nooiensvan was.

Die enigste een wat werklik hiervan bewus was, was haar man.

Hierdie spesifieke Sondag het sy skoonfamilie van ver af kom kuier. Hulle was vir hom een te veel. Alhoewel hy dit so goed moontlik hanteer het, was sy senuwees klaar teen die tyd dat hulle vertrek het. Hy was gedaan.

Hulle was luidkeels en onafgerond. Daar was geen filter voor enigeen van hulle se mond nie. Ter wille van sy vrou het hy nooit ’n woord hieroor geuiter nie.

Aan die etenstafel het die gesprekke nie veel beter verloop nie. Baie van die onderwerpe het nie, volgens hom, by die etenstafel gehoort nie.

Hy het hard gekonsentreer om nie te laat blyk hoe hy voel nie.

Ná baie jare van stilbly, het hy egter begin sukkel om sy mond te hou.

Almal was nog besig om te rumoer en te klets toe hy hulle, heeltemal onverwags, luidkeels toesnou: “Hierdie Britsems, darem!”

Skielik was daar doodse stilte. Almal het hom aangestaar.

Hy het nooit bedoel om dit hardop te sê nie.

Sy skoonfamilie en vroulief het op ’n antwoord gewag.

Hy het ’n oomblik gehuiwer en toe hardop gesê: “Hierdie mense van Brits, darem!”

You need to be Logged In to leave a comment.