Soos die meeste tale word Afrikaans deur ’n magdom idiome en uitdrukkings gekenmerk.
Soms wonder ’n mens waar ’n spesifieke uitdrukking sy ontstaan gehad het. Sommige uitdrukkings maak wonderlik sin; andere herkou ’n mens moeilik aan.
Een van die uitdrukkings waarmee ek nooit saamgestem het nie, is: “Die doel heilig die middele.”
In leketaal beteken dit dat as jy ’n spesifieke doel bereik het, die manier waarop die doel bereik is nie saak maak nie.
Ek wonder soms wat die dryfveer agter mense se motiveringsmetodes is.
Uit die staanspoor pas sommige mense die ergste straf toe. Die een wat gestraf word, trap nou in hul spoor, maar watter invloed het dit op die pad vorentoe? Is hierdie soort straf die enigste suksesvolle manier om gedrag te verbeter?
Dalk is daar ander maniere. Dalk ’n klein vergoeding vir ’n sekere soort optrede.
Om permanent die swaard van dissiplinêre optrede oor werknemers se kop te hou is dalk op die kort termyn doeltreffend, maar op die lang termyn? Veral as dit ’n onbenulligheid is wat in ’n paar sinne opgelos kan word.
’n Mens kry soms die indruk dat daar mense is wat nie ’n situasie maklik en logies wil oplos nie. Die situasie moet met geweldige fors bestuur word. Werknemers moet gedreig word.
Dalk werk hierdie manier van motivering suksesvol vir sommige mense, maar beslis nie vir almal nie. Sommige mense se moed word heeltemal gebreek.

