Hulle was op pad van Gauteng na die Wes-Kaap en het by ’n tak van ’n bekende restaurantgroep in die Noord-Kaap stilgehou om ontbyt te eet.
Haar gesin het koffie bestel, maar sy was lus om iets anders te drink.
Sy het nog deur die spyskaart geblaai terwyl die kelner die res van haar gesin se koffie gebring het. Daardie lekker koffies met die lagies verskillende kleure.
Sy het na die kelner gekyk. Die nota aan sy hemp het aangedui dat hy nog met opleiding besig is.
Sy kon nie besluit wat sy wou drink nie.
“Ek is op soek na een van hierdie koffies, maar dit moet met warmsjokolade gemaak word. Met sulke lagies verskillende kleure.”
Die kelner het haar met groot oë aangestaar. Dan het hy na die spyskaart gekyk. Daarna weer na haar.
“Mevrou?” het hy getwyfel.
Hy het lomp verduidelik dat hy nie seker is of hulle so iets sal kan bedien nie.
Hy het verbouereerd sy gewig van sy een been na die ander been verskuif.
Sy wou nie bes gee nie.
“Dit behoort nie so moeilik te wees nie,” het sy volgehou.
“Probeer ten minste net.”
Hy het tyd probeer wen deur eers by ’n senior kollega te gaan kers opsteek.
Met meer verwarring en groter vraagtekens op sy voorkop het hy na haar toe gestap en gesê: “So, ek wil net seker maak . . . wat mevrou eintlik soek is ’n warmsjokoladedrankie wat nog nie geroer is nie?”

