“Gee vir my jou e-pos-adres, dan stuur ek vir jou ’n voorbeeld,” sê sy onverwags.

’n Warm gevoel skop nes in my hart.

Daar is inderdaad mense wat bereid is om te help. Om hul kennis te deel. Om waarde tot iemand anders se lewe toe te voeg sonder om ooglopend iets in ruil daarvoor te ontvang.

Ongelukkig is die teendeel ook waar.

Mense is soms so vreesbevange dat iemand anders dalk meer suksesvol sal wees, dat hulle nie bereid is om inligting of kennis te deel nie.

Dalk gaan die persoon meer gewild wees. Meer bevoeg. Meer bekwaam.

Dít kan hulle skynbaar nie bekostig nie.

Daarom kleef hulle met mag en mening aan hul klein wêreldjies, sonder om kennis of inligting te deel.

Hulle sal vir jou vertel dat hulle self al die kennis en inligting moes inwin, en jy kan dieselfde doen.

Waarom moes hulle sukkel en jy kry dit maklik?

Daar is inderwaarheid mense wat kollegas verbied om werksverwante vrae te vra.

Gelukkig het nie alle mense hierdie uitgangspunt nie.

As die regte kennis en ondervinding gedeel word, word die wêreld ’n beter plek.

Daar is ’n ou gesegde wat lui: As jy aan ’n honger mens ’n vis gee, help jy hom vir ’n dag. As jy hom leer om vis te vang, help jy hom vir ’n leeftyd.

Dankie aan diegene wat bereid is om jul kennis en ondervinding te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.