Eersdaags het ons die voorreg om ‘n vriendskap van 20 jaar met kosbare vriende te vier.
“Ons moet iets anders doen wanneer ons ons 20-jarige vriendskap vier,” sê sy ‘n paar weke gelede. “Ons kom by julle braai, maar ons moet iets anders as altyd doen.”
Ek lag hardop.
Sy kyk my fronsend aan.
“Ons doen al vir 20 jaar elke keer presies dieselfde wanneer ons by mekaar kuier, ek weet nie of ons in staat gaan wees om dit anders te doen nie.
“Dit is altyd spesiaal wanneer ons kuier, wat meer wil jy hê?”
Sy lag. Dan sak daar ‘n oomblik ‘n ernstige stilte oor ons toe terwyl elkeen se brein aan die werk spring.
“Ek weet! Ons kan eers die nagereg eet en dan braai.”
Ons albei bars uit van die lag.
Soms moet ‘n mens die roetine breek.
Daar is nie altyd tyd of geld of geleentheid om iets drasties te verander nie.
Ons gaan nie in hierdie geval die stadsaal huur nie.
Soms het ons nodig om eers die nagereg en dan die hoofgereg te eet.
Iewers moet ons die volgorde van dinge herrangskik – net omdat dit ons menswees goed doen.
Dit hoef nie noodwendig met kos verband te hou nie.
Moet asseblief nie in die toekoms net nagereg eet en sê ek het skriftelik toestemming daartoe gegee nie.
Die lewe bestaan uit slaap en opstaan. Werk toe gaan. Huis toe gaan. Skoolwerk. Aandete. Wasgoed. Skottelgoed. Slaap en opstaan.
Verander dalk iets kleins en nooi iemand spesiaal om deel daarvan te wees – net om die herinnering ekstra spesiaal te maak en jou menswees te voed.
Ek weet nie of ons daarin gaan slaag om iets anders te doen tydens ons beplande herdenking-kuier nie, maar ons gaan beslis probeer.