“Ek het jou rubriek oor die bemagtiging van ander mense gelees,” skerts sy.

“Jy weet dat nie alle mense bemagtig kan word nie, nè?”

Ek knik ingedagte my kop.

“Ek sal ’n opvolg op daardie rubriek moet skryf,” sê ek laggend.

Nie alle mense is fisiek of emosioneel gereed om bemagtig te word nie. Daar is mense wat nie bemagtig wil word nie. Wat bloot nie daarin belang stel om iets op ’n beter of makliker manier te leer doen nie. Of enigsins te leer doen nie.

Sommige van hulle beskou dit as ’n persoonlike aanval as jy aanbied om hulle iets te leer. Asof jy hulle as dom ervaar – wat glad nie die geval is nie.

Dan is daar diegene wat nie bemagtig kan word nie. Hulle het net bloot nie die verstandelike vermoë om sekere dinge aan te leer nie. Dit is nie dat hulle nie wil nie, hulle kan net nie.

Die ander kant van die muntstuk is diegene wat ander mense nie wil bemagtig nie. Dalk omdat hulle nie weet hoe nie. Dalk omdat hulle vrees dat ander mense beter as hulle sal vaar.

Daar is werkgewers of bestuurders wat geensins hul werknemers wil bemagtig nie. Hierdie verwronge idee van mag is wat baie werknemers uiteindelik groener weivelde laat soek.

Dankie aan diegene wat wel bemagtig wil word en ander mense wil bemagtig.

Maar, vriendin, jy is reg. Ongelukkig is dit nie op almal van toepassing nie.

You need to be Logged In to leave a comment.