My voertuig is by dieselfde motorhandelaar as my kollega s’n gekoop. Omdat dit ’n gebruikte voertuig was, moes dit kort ná die koop daarvan versien word.

Ná die versiening is my motorsleutels aan my terugbesorg.

Die administratiewe vrou het vriendelik aan my beduie dat hulle vir my ’n sleutelhouer aan my sleutels gesit het – ingeval my voertuig iewers probleme gee of ek myself in ’n noodsituasie met my voertuig bevind.

Ek het my sleutels by haar geneem, vlugtig na die sleutel­houer gekyk en haar bedank.

’n Paar dae later, toe ek verby my kollega se kantoor loop, sien ek hoe sy haar motorsleutels in haar handsak bêre.

Dit het dieselfde sleutelhouer as myne.

“Ek sien jy het ook ’n sleutelhouer met Albert se selfoonnommer gekry,” skerts ek.

Sy frons.

“Albert wie?”

Ek verduidelik dat ek kon sien dat dit dieselfde sleutelhouer is as wat ek het.

Sy skud haar kop verward.

“Wie is Albert?” wil sy weer weet.

“Dit is die persoon wat ons bel wanneer ons iewers op ’n ver pad ’n probleem met ons voertuig optel,” verduidelik ek.

“Jy weet . . . Albert.”

Sy begin in haar groot handsak rondvroetel en haal haar motorsleutels uit. Dan kyk sy ingedagte na die naam en selfoonnommer.

Sy bars uit van die lag.

“Hier staan nie Albert nie, Karin,” sê sy.

“Hier staan Alert.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article