“Jy praat nou van die k-woord, jy weet,” lag sy en knipoog.
Ek raak senuweeagtig. In die kort tydjie dat ek haar ken, het ek haar nie opgesom as iemand wat kras woorde gebruik nie.
Sy lag vir my gesigsuitdrukking.
“Nie daardie k-woord nie,” beduie sy. “Die ander k-woord. Kommunikasie.”
Inderdaad. Sonder die nodige kommunikasie gaan dinge moeilik. Dit veroorsaak misverstande. Dit vertraag produksie. Dit kniehalter goeie menseverhoudinge.
Om te praat of gesels is iets wat natuurlik kom. Kommunikasie nie noodwendig nie. Dit is wanneer kommunikasie min of heeltemal afwesig is dat dinge begin uitrafel.
Tydens grendeltyd kon ’n mens dit duidelik aan jou lyf voel. Tegnologie maak dinge wat voorheen moeilik of onuitvoerbaar was, moontlik. Maklik, selfs. Tog vervang dit nie ’n gesprek wat van aangesig tot aangesig gevoer word nie. ’n Gesprek waarin vrae oor en weer gevra en verduidelik kan word.
Kommunikasie behels meer as net die geskrewe of gesproke woord. Lyftaal is net so ’n belangrike vorm van kommunikasie. Oogkontak. Stemtoon. Alles dra daartoe by om uiteindelik doeltreffend te kommunikeer.
Ons leef in ’n gejaagde tyd. Boodskappe raak verlore omdat ons nie genoeg tyd het om dit deeglik oor te dra nie.
Misverstande ontstaan omdat die aanhoorder se gedagtes gelyktydig met ’n magdom uitdagings besig is.
Ons praat maklik. Kommunikeer ons maklik? Onthou hierdie k-woord: Kommunikasie.


