Die hoeveelheid arbeid wat jy verrig, word in verskillende mate gemeet.
Mense wat met hul hande werk se arbeid kan baie makliker gemeet word as dié van mense wat met hul verstand werk.
So kan mense wat huise bou se arbeid gemeet word aan die aantal huise wat gebou en bewoon word. Dit word in boumateriaal en ure gemeet, totdat die eindproduk uiteindelik tot stand kom en dit in geheel gemeet kan word.
Iemand wat kruideniersware op rakke of in sakkies pak, kan die hoeveelheid arbeid meet aan hoeveel blikkies op die rak gepak is of hoeveel sakkies gepak is.
Mediese beroepe meet arbeid aan die aantal pasiënte. Regsberoepe meet arbeid aan die aantal hofsake wat hanteer word.
Tog bestaan beroepe waarin dit nie so maklik is om arbeid te meet nie. Die eindproduk regverdig op die oog af nie die hoeveelheid arbeid wat dit geneem het om die produk te skep of daar te stel nie.
Sommige beroepe behels herhaling, herhaling, herhaling. Die hoeveelheid arbeid wat daaraan bestee word om ’n huis skoon te maak of ’n ete te berei, word in ’n paar minute weer uitkanselleer. Dan word daar weer skoongemaak en nog ’n ete berei.
“Waarna soek jy?” vra ons ontvangsdame vriendelik toe ek die laai langs haar ooptrek.
Ek hou ’n houertjie potloodloodjies en ’n stafie krammetjies na haar toe uit.
“Ek is op soek na die goed waarmee ek my arbeid meet,” sê ek laggend.