confused businessman checking time on wristwatch
Ter illustrasie FOTO: Andrea Piacquadio / pexels.com

“Skryf iets hieroor,” sê hy.

Ek frons. “Waaroor nogal?”

“Oor waarom mense altyd laat is.”

Ek glimlag. Alle mense is darem nie altyd laat nie. Maar ja, hy het ‘n punt beet – baie mense is in baie gevalle laat. Dalk is hulle laat omdat hul beplanning nie noodwendig reg uitdraai nie. Die plek waar hulle moes wees is verder as wat hulle gedink het. Die verkeer was meer. Die eenrigtingstrate het hulle verwar. ‘n Ongelukstoneel het alles ontwrig.

As ‘n mens laat vanaf punt A vertrek is die kans skraal dat jy betyds by punt B gaan opdaag.

Mense het goeie voornemens. Ek twyfel of hulle beplan om laat te wees.

Hulle wil nie noodwendig vroeg by ‘n plek opdaag nie, maar ten minste nie laat nie. Min of meer betyds.

Ongeag goeie beplanning, wonderlike voornemens en goeie voorbereiding, gebeur dit soms dat jy nog steeds laat is.

Die voordeur se slot is steeks en jy kry nie die sleutel uit nie.

Die hekmotor het sy streke en nou wil die hek nie heeltemal toemaak nie. Jy het teruggehardloop om te kyk of die stoofplaat af is. Jy moes twee blokke van die huis af omdraai en teruggaan omdat jy jou selfoon by die huis vergeet het.

Jy wou regtig betyds wees. Nie vroeg nie, maar ten minste nie laat nie. Daar word gesê dat daar sielkundige redes is waarom mense altyd laat is.

Dalk delf hulle te diep.

Ons probeer. Ons wil. Ons het van die tyd vergeet. Ons het besig geraak. Ons het nie besef dit is vanoggend die afspraak nie, ons het verstaan dit is môre. Mense raak moeilik wanneer dieselfde mense altyd laat is.

Dit is verstaanbaar.

Maar iewers wou iemand werklik en eerlik betyds wees.

Daar was dalk onverwagte faktore wat dit gekniehalter het.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.