man near carton boxes with many different words about stress
Ter illustrasie Credit: SHVETS production

Daar word gesê: “Tyd laat alle wonde genees.” Diegene wat geweldige trauma beleef het, sal waarskynlik hiervan verskil.

Hoewel dit nie so eenvoudig is nie, steek daar dalk tog waarheid in. Dit hang seker af van hoe ‘n mens ná groot seerkry jou tyd benut.

Sommige mense gee hulself oor aan drank of dwelms.

Weens verkeerde keuses beland hulle in ‘n spiraal van selfverwoesting waaruit dit moeilik is om weg te breek. Dit is heeltemal verstaanbaar.

Die lewe is vol uitdagings. Sodra jy dink jy het een spreekwoordelike berg oorgesteek, doem die volgende een voor jou op. Om vir ‘n redelike tydperk net normale uitdagings te beleef, is iets wat skynbaar buite bereik bly.

‘n Groot deel van die mensdom probeer oorleef. Probeer staande bly. Fisiek. Emosioneel. Finansieel. Psigies. Sommige dae is moeiliker as ander. Sommige dae is byna onuithoudbaar.

Om verby jou emosies te kyk en iets positiefs te probeer doen is moeilik.

Om jou trane af te vee en jou drafskoene aan te trek of ‘n vriendin vir koffie te nooi is op sigself ‘n uitdaging.

Om te kies wat jy met jou tyd doen, is ‘n ander soort verantwoordelikheid as gewoonlik.

Om verkeerde besluite te neem is immers makliker as om die regte ding te probeer doen. Maar dit is belangrik om te probeer. En aan te hou probeer.

Eindelik moet ons op ons lewenspad kan terugkyk en in alle eerlikheid kan sê dat dit ons beste poging was. Nie foutloos nie, maar beslis ons mankoliekige-menswees-beste.

Daar word gesê: “Tyd laat alle wonde genees.”

Diegene wat geweldige trauma beleef het sal waarskynlik hiervan verskil.

Maar dalk kan positiewe dinge wat ons gedurende hierdie tyd doen, help om die wonde gedeeltelik te help genees.

You need to be Logged In to leave a comment.