Portefeuljekomiteelede het Maandag 27 Maart die Hullstraat-behuisingsprojek en ander projekte in die stad besoek. Foto: Charné Kemp


Die parlementêre portefeuljekomitee vir menslike nedersettings wat Maandag 27 Maart behuisingsprojekte in Kimberley tydens ’n oorsigbesoek bekyk het, is oor die algemeen tevrede met die provinsiale regering se bestuur daarvan.

Bafedile Lenkoe, departementshoof van die Noord-Kaapse departement van plaaslike regering en menslike nedersettings, het bevestig die gebouekompleks van die Roodepan-woonstelle met meer as 400 wooneenhede gaan gesloop word.

“Ons het reeds grond geëien wat gekoop gaan word om alleenstaande huise vir die begunstigdes te bou. Hulle moet intussen verifieer word. Die grond waarop die woonstelle staan, behoort aan die munisipaliteit en hulle sal besin oor wat daarmee gebeur.

“Die woonstelle is onbewoonbaar en heeltemal vervalle. Dit kan nie gered word nie. Ons gaan nie meer woonstelle bou nie, want woonstelle moet geld genereer. Die huidige inwoners kan nie huurgeld bekostig nie, daarom bou ons vir hulle Hop-huise.”

Die kleigrond in Lerato Park bemoeilik konstruksiewerk. Geboue wat reeds gebou is, het krake, maar die departement het ’n ander kontrakteur aangestel om dit te herstel.

Die fondamente van die Hullstraat-behuisingsprojek is met reënwater gevul. Foto: Charné Kemp

“Ons maak seker dat die ontwerp en bouwerk van die nuwe fases in die projek op standaard is en die toestande in ag neem. Kontrakteurs moet by die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) geregistreer wees, en ons sal die gehalte van die werk gereeld nagaan. Die Lerato Park-projek wat 4 600 eenhede behels, word in agt fases gebou. Sommige woonstelbewoners van Roodepan sal in Lerato Park gehuisves kan word,” sê Lenkoe.

Thlologelo Malatji, portefeuljekomitee-voorsitter, sê die “Roodepan-woonstelle is ’n ramp. Ons het dringende ingryping nodig om die mense te hervestig. Die mense kan nie huurgeld bekostig nie.”

Hy is beïndruk met die Lerato Park-ontwikkeling. “Die invordering van huurgeld het agterweë gebly. Daar is kommer oor die gebrek aan ’n kantoor waar huurders hul geld kan betaal. Die munisipaliteit sal voorsiening hiervoor maak.”

By die Hullstraat- Maatskaplike Behuisingsprojek in De Beers was die parlementslede bekommerd oor die grond en oppervlakwater wat die bouwerk met ses maande vertraag het. Hewige reën die afgelope somer, en verlede week se reën het die fondamente en slote waar water- en rioolpypleidings geplaas moet word, oorstroom.

“Ons is gerusgestel oor die planne om die water weg te lei en die gebou sal hoog bokant grondvlak gebou word. Ons sal oor ses maande terugkom om die vordering te bekyk.”

Die boukontrakteur het aan die lede gesê hulle het ingenieursplanne om die waterprobleem te oorkom. Die ontwikkeling bestaan uit woonstelgeboue wat drie vloere beslaan en sal uiteindelik 600 wooneenhede bied. Groter huise is reeds en word voortdurend in die buurt gebou en aan laer besoldigde mense gebied wat huise met staatsubsidies kan koop.

Kagisho Sonyoni, Sol Plaatje-burgemeester, sê die vloedwaterslote by die Hullstraat-projek word oopgemaak om vloedwater weg te voer.

“Ons kabels by die pompstasies word gereeld gesteel, maar ons sal die probleem met vloedwater oplos.”

Hy is vol vertroue dat die toelae van byna R2,5 miljard wat die munisipaliteit van die tesourie gaan kry om die infrastruktuur op te knap, genoeg sal wees om nuwe behuisingsprojekte te hanteer. Volgens hom sal die slaggate in die woongebied en elders herstel word. Die munisipaliteit het ses spanne wat slaggate oor die hele stad herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article