Daniel Wilfred Alberts tydens ’n hofverskyning in 2024.

Foto: Helena Barnard

Die man wat ’n jaar gelede na bewering twee polisielede van die blitspatrollie in Kimberley doodgeskiet het, se versoek om selfs geboei na ’n bank geneem te word om geld te bekom om ’n private regsverteenwoordiger aan te stel, is verlede week twee maal geweier.

Daniel Wilfred Alberts (39) het op Maandag 12 Augustus en op Vrydag 16 Augustus in die landdroshof in Kimberley dié versoek aan twee verskillende landdroste gerig.

Alberts het gesê hy het genoeg geld vir ’n private regsverteenwoordiger, maar sy probleem is dat hy nie vanuit aanhouding sy hande op die geld in sy bankrekening kan lê om ’n private prokureur te kan betaal nie.

Hy staar twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een van diefstal in die gesig. Sy huisadres is voorheen as in Pretoria aangegee.

Die saak sou na verwagting na die hooggeregshof oorgeplaas word, maar Neo Batsikane, staatsaanklaer, het aangedui dat hulle steeds besig is om verskillende strafsake teen Alberts saam te voeg.

Die verdagte is glo al voorheen vir ander misdade in hegtenis geneem. In die jongste saak het hy nie aansoek om borgtog gedoen nie.

Alberts sou in die afgelope jaar vir psigiatriese waarneming opgeneem word ná die voorval op 22 Augustus 2023 waarin hy glo vir konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo doodgeskiet het. Masilo en Mandindi het onderskeidelik vir 16 en 11 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedien.

Dié twee lede van die blitspatrollie was na bewering besig om die bewegings van ’n gesteelde gehuurde voertuig na te gaan wat op pad was na Kimberley. Nadat hulle die voertuig in die stad gesien het, het hulle dit gevolg. Die voertuig het na Transnet se spoorwegwerf weggejaag waar dit in ’n sloot beland het. Die verdagte het te voet gevlug. Die polisielede het hom agterna gesit, waarna hulle doodgeskiet is. Alberts is later die dag in Riverton aangekeer.

Die breedgeskouerde Alberts was met albei verskynings in ’n kakiekleurige langbroek, met ’n swart baadjie bo-oor ’n rooi-en-swart-blokkieshemp geklee. Hy het notaboeke onder sy arm vasgeknyp en een keer ’n reistas by hom gehad.

Daniel Wilfred Alberts tydens sy eerste hofverskyning in Augustus 2023.

Hy het aan landdros Jumari du Toit en landdros Rosemary Terblance gevra dat hulle ’n bevel uitreik dat hy, selfs geboei, na die bank geneem kan word. Albei het geweier en gesê dit is ongehoord en buite hul magte. Hy moet met die ondersoekbeampte en die aanklaer daaroor praat en weer verskyn om verslag te doen.

Volgens Alberts steur die departement van korrektiewe dienste hom nie aan sy skriftelike versoeke nie. Hy moet die bank glo in persoon besoek omdat sy biometriese besonderhede eers bevestig kan word voordat hy geld kan trek of volmag aan iemand anders gee.

Die saak is tot Vrydag 4 Oktober uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.