Van links, op die voorgrond, is serss. Khiba Domini Zulu en Tshepo Abraham Thae, asook Thepelo Goodenough Pandle in die beskuldigdebank.

Foto: Charné Kemp

Twee polisielede van die voertuigdiefstal-eenheid, waarvan een se vroeëre ontslag na bewering versag is, en een van hul drie burgerlike medebeskuldigdes, het Dinsdag 26 November weer in die landdroshof in Kimberley verskyn op aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie.

Die verskyning spruit uit bewerings dat die beskuldigdes die besonderhede van ’n gesteelde na ’n heropgeboude voertuig verander het om dit te herregistreer.

Serss. Khiba Domini Zulu en Tshepo Abraham Thae is van die voertuig­diefstaleenheid en hul medebeskuldigdes is Phenyo Sekutenyane, Shepherd Ndimande en Thepelo Goodenough Pandle.

Hulle het met ses aanklagte te kampe, wat insluit oortredings van die Wet op die Vrederegters van die Kommissarisse van Ede, bedrog, korrupsie, voertuigdiefstal en regsverydeling.

Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie se teenkorrupsie-eenheid ondersoek ’n saak van bedrog, diefstal en regsverydeling.

“Die verdagtes was na bewering betrokke in voorvalle gedurende September en Oktober 2024 waarin voertuie onwettig op beslag gelê is met die oogmerk om dit in Kimberley en die Vrystaat te verkoop. Die waarde van die voertuie beloop sowat R2,5 miljoen.”
Lt.kol. Sergio Kock

Twee polisielede en twee ander mans is op 12 en 13 November in hegtenis geneem, en nog ’n man op 26 November, waarna hy en die twee lede weer verskyn het.

Sekutenyane en Ndimande is op 21 November onderskeidelik op R10 000 en R15 000 borgtog vrygelaat en Pandle wat Dinsdag as beskuldigde bygevoeg is, op borgtog van R10 000.

Adv. Sazile Gesi, aanklaer, het aan die hof gesê die aanklagte spruit uit ’n gesteelde 2019 Jeep Cherokee wat by die polisie-eenheid ingeboek moes wees.

Beskuldigdes het glo saamgewerk
Die beskuldigdes het glo saamgewerk om die onderstel- en enjinnommers te verander. Die voertuig is toe as ’n 1969 Jeep Cherokee van ’n onbekende modelreeks herregistreer, glo ’n heropgeboude voertuig.

Die nuwe enjin- en onderstelnommer bestaan nie wetlik nie.

Die staat gaan die borgtogaansoeke van Zulu en Thae, wat op 2 Desember aangehoor word, teenstaan.

Mojalefa Senokoatsane, Nasionale Vervolgingsgesag-woordvoerder, sê die staat staan die borgtogaansoek teen omdat die polisielede van ’n bylaag 6-misdryf ingevolge die Strafproseswet aangekla word omdat hulle na bewering die jongste misdade gepleeg het terwyl hulle op borgtog vrygelaat is in ’n afsonderlike bylaag 5-misdryf.

Adv. Thobile Komazi, namens Thae, het landdros M. Qomoyi versoek dat die polisielede vir hul eie veiligheid in polisieselle aangehou word. Sy het dit toegestaan nadat sy eers gevra het of polisielede nie dieselfde as ander beskuldigdes behandel moet word nie.

Die verhoor is na 21 Januarie uitgestel.

Kort nadat die saak uitgestel is, het Thae omgedraai en vir een van sy ondersteuners in die galery, Dikgang Stock, ’n voormalige ANC-nasionale parlementslid en van die Raad op Provinsies, duim gewys.

Volgens onberispelike bronne moet die polisie se klaringsbeampte ’n voertuig fisiek by die polisiekantoor nagaan en bevestig dat die voertuig se identiteit dieselfde is as op die betrokke dokumente om ’n nuwe registrasienommer te kry soos in die geval van ’n opgeboude motor.

Die voertuig in die betrokke saak is glo in Bloemfontein by ’n nuwe eienaar opgespoor.

Die bron voer aan een van die polisiemanne is verlede jaar ná ’n ondersoek deur die teenkorrupsie-eenheid uit die polisie ontslaan weens beweerde knoeiery met ’n klaringsertifikaat vir ’n gesteelde voertuig waarvoor hy na bewering omkoopgeld aanvaar het. Sy ontslag is egter later versag en hy is weer in diens gestel.

  • Enigeen met inligting oor die voorvalle kan sers. Christopher Sibley by 063-686-5174 bel. Die ondersoek duur voort, sê Kock.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article