Van die toerusting wat gekonfiskeer is.

Foto: Verskaf

In Kimberley is 14 verdagtes vir onwettige mynboubedrywighede deur ’n multidissiplinêre span van die polisie in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.

Die 11 mans en drie vroue, wat buitelandse burgers sonder die vereiste dokumente is, is van Lesotho en Zimbabwe afkomstig. Hulle is op Woensdag 8 November by die Kenilworth-myngebied naby Samariaweg aangekeer.

Van die toerusting wat gekonfiskeer is.

’n Aansienlike aantal toerusting wat vir mynboubedrywighede gebruik word, is gekonfiskeer.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die intelligensie-gedrewe operasie is deel van ’n poging om die voortslepende onwettige mynboubedrywighede in Kimberley aan te spreek.

Die kommissaris van die Frances Baard-distrik, genl.maj. Johan Bean, het die bevelvoerder van die Kimberley-polisiestasie, brig. Nicholas Mtongana, en sy span vir hul optrede geprys.

Bean het herhaal dat onwettige mynboubedrywighede een van die voorkeursake is waarop die polisie in die feestyd en daarna sal fokus.

Lede van die kantoor van die Frances Baard-distrikskommissaris, asook van die Kimberley-, Roodepan-, Galeshewe- en Kagisho-polisiekantoor, misdaadintelligensie, K9-eenheid, blitspatrollie, taktiese-reaksiespan, berede-eenheid, Ekapa-mynsekuriteit, Sol Plaatje-sekuriteit, plaaslike verkeer en die departement van binnelandse sake was by die operasie betrokke.

Pres. Cyril Ramaphosa het 3 300 weermaglede oor die land heen ontplooi om die polisie in die stryd teen onwettige mynwerkers (zama-zamas) by te staan, berig Christiaan du Plessis op Netwerk24.

Die ontplooiing sal vir ses maande, tot 28 April, duur en is deel van ’n teenmisdaadoperasie van hoë intensiteit teen alle onwettige mynboubedrywighede in alle provinsies.

Dr. Guy Lamb, polisiekenner aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die geveg teen zama-zamas is ’n ingewikkelde kwessie wat “baie stewels op die grond vereis”.

Lamb sê die polisie benodig mannekrag om met hierdie bendes in die myne af te reken, want hulle het toegang tot hulpbronne soos outomatiese gewere en is in die algemeen uiters gewelddadig.

Hy sê die ontplooiing van die weermag om die polisie by te staan, is niks nuuts in die land nie.

You need to be Logged In to leave a comment.