Polisie op brandstigters se spoor

Agri Noord-Kaap sê hy is verheug dat die polisie die oorsake van die onlangse brande ondersoek en skuldiges wil vervolg. Dit volg nadat ongeveer 455?000?ha die afgelope maande in die Noord-Kaap afgebrand het sonder ooglopende tekens van natuurlike oorsake soos donderweer.


Brande

Die veld en weiding op etlike wild- en veeplase buite Kimberley is deur vlamme verswelg.

Agri Noord-Kaap sê hy is verheug dat die polisie die oorsake van die onlangse brande ondersoek en skuldiges wil vervolg.

Dit volg nadat ongeveer 455 000 ha die afgelope maande in die Noord-Kaap afgebrand het sonder ooglopende tekens van natuurlike oorsake soos donderweer. 

Meer as een brand het langs die R31-roete tussen Daniëlskuil en Kuruman ontstaan. Sedertdien is patrollies op die roete ingestel om moontlike verdere voorvalle van brandstigting te voorkom.

In die brande wat aan die einde van September tussen Kimberley, Douglas en Jacobsdal gewoed het, is meer as 144 000 ha afgebrand. Sommige plase is heeltemal verwoes en heelwat wild en veeverliese is aangemeld. Agri Noord-Kaap het grondeienaars gevra om klagte by die polisie in te dien en saaknommers van ander sake te voorsien. Die organisasie sal die vordering van die ouer sake met die polisie bespreek.

Volgens Joe Scholtz, voorsitter van Agri Noord-Kaap se landelike veiligheidskomitee, beleef die Noord-Kaap sy ernstigste brandseisoen ooit.

“Dit is nog voor die aanvang van die lentereënseisoen wanneer die eerste donderstorms gewoonlik met weerlig gepaard gaan en risiko’s vir die ontstaan van natuurlike brande inhou,” sê hy.

“Ons het ’n gevestigde werksverhouding met die provinsiale polisie. Daarom kon ons hulle nader om dringend die ontstaan van wegholveldbrande oor die provinsie heen te ondersoek. Ons sal gereeld met polisielede skakel om die vordering van ondersoeke na te gaan.” 

Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die Noord-Kaapse ekonomie kan nie die hewige verliese aan produksie bekostig nie.

“Altesaam 50% van die provinsiale oppervlak verkeer steeds in rampdroogtetoestande. Ons verwelkom die polisie se ondersoeke. Ons sal ons lede aanmoedig om met die polisie saam te werk om hul ondersoeke te vergemaklik.” 

Volgens kol. Mashay Gamieldien, waarnemende hoof van die polisie se kommunikasie-afdeling, is hulle besorg oor die aantal brande wat onbeheers gewoed het. 

“Die brande in verskeie landboudistrikte het derduisende hektaar weiding vernietig, waarin huise afgebrand en diere dood is. Plaaswerkers en vrywilligers is beseer of het behandeling vir rookinaseming ontvang. 

“Die polisie sal daadwerklik die oorsake van die brande ondersoek. Diegene wat verantwoordelik is, sal aangekeer en vervolg word. Ons sal Agri Noord-Kaap bystaan om misdaad teen landbouers en hul eiendom te bestry en voorkom,” sê Gamieldien.

“Ons landelike veiligheidstrategie is daarop gemik om landelike veiligheid te versterk. Ons moet die behoeftes van die landelike gemeenskap bevredig deur vir almal ’n veilige omgewing te skep.” 

You need to be Logged In to leave a comment.