Van die vermoedelik gesteelde ware wat deur die polisie in Prieska gekonfiskeer is.

Foto: Verskaf

Dié rekenaar, wat die eiendom van ’n kliniek in Prieska is, is deur die polisie teruggeneem. ’n Verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Items wat by die Ethembeni-kliniek in Prieska gesteel is, is deur die polisie gekonfiskeer nadat hulle inligting opgevolg het oor ‘n verdagte wat na bewering in besit van gesteelde eiendom was.

Een verdagte, ’n manspersoon, is vir die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem. Die polisie het onder meer beslag gelê op ‘n Mecer-rekenaar en sleutelbord, asook ander mediese toerusting ter waarde van R15 000, sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder.

Dié verdagte was een van ses wat Dinsdag 18 April op verskillende plekke in Prieska in hegtenis geneem is tydens die uitvoering van Operasie Vuthu Hawe deur plaaslike polisielede.

In ‘n ander nie-verwante voorval is ‘n manlike verdagte by ‘n huis in West End in hegtenis geneem vir die besit van dwelms. Dit sluit onder meer mandrax-tablette in, asook tik en ander tikprodukte, met ‘n geraamde waarde van R46 039. R6 730 kontant is ook gevind wat na bewering die opbrengs van die verkoop van die dwelms is.

Nog vier verdagtes is tydens stop- en deursoek-aksies in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

Alle verdagtes sal binnekort in die Prieska-landdroshof verskyn.

Polisielede het ook twee onwettige sjebiens gesluit, en boetes van onderskeidelik R500 en R800 is aan die eienaars uitgereik.

Die Pixley ka Seme-distrikskommissaris, genl. maj. Nomana Mtukushe, het die stasiebevelvoerder, lt. kol. Rendani Ndou en die span geprys vir hul aandeel om misdaad hok te slaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article